
Daar is iets onmiskenbaar betowerend aan ‘n klein dorpie. Die soort plek waar almal mekaar ken, waar jy nooit net gou êrens kan inloop sonder om ‘n geselsie aan te knoop nie, en waar skinderpraatjies vinniger versprei as ‘n somerbries. Dit is hierdie warmte en gemeenskapsgees wat klein dorpie-stories so onweerstaanbaar maak – en waarom Groenbosbaai die perfekte agtergrond vir ‘n liefdesverhaal is.
Ek het self al in ‘n klein dorpie gewoon – die tipe plek wat mense as ‘n dorpie beskou omdat daar nie eers ‘n Woolworths was nie en net een laerskool. As jy hoërskool toe wou gaan, was jou opsies eenvoudig: koshuis toe of na die naaste groot dorp toe ry. Die kinders het kaalvoet skool toe gegaan, en jy kon altyd die seisoene bepaal op grond van hoeveel modder tussen hul tone is. Dit was ‘n plek waar jy nie vinnig ‘n draai in die enigste supermark(ie) kon maak sonder om minstens drie mense raak te loop en op hoogte te bly van die jongste skinderstories nie.
Maar niks kon my voorberei vir die klein dorpie waar ek in COVID vasgekeer was nie. Ek was net daar om my suster se verjaarsdag te vier toe die grendeltyd aangekondig word, en skielik was ek vasgekeer in ‘n plek waar daar nie eers ‘n koffiewinkel was nie – net die koöperasie, waar jy jou basiese benodigdhede gekry het en sommer in een asem kon hoor wie se kind nou waar werk en wie se buurvrou se hond weer in die pad lê en slaap het. Dit was so stil dat ons nog op die plaaspaaie kon gaan stap, maar na ‘n paar weke het ek begin bekommerd raak toe ek die beeste name gee en begin gesels met die dorpshonde.
Nou, buite grendeltyd is die ware sosiale sentrum van die dorp nie ‘n koffiewinkel of selfs die koöperasie nie, maar die klub – daardie plek waar almal van die boere tot die polisieman in die aand gaan sit het vir ‘n glasie wyn of ‘n bier. Daar is nie formele besprekings nie, net ‘n kopknik en ‘n “Skuif bietjie in, man” as jy ‘n stoel soek. Dit is hier waar sake gedoen word, waar jy hoor wie se skoonseun nou ‘n kontrak in die stad gekry het en waar ‘n nuwe gesig in die dorp vinniger opgemerk word as ‘n spesiale aanbod op skaapboud.
En dis presies wat klein dorpie-verhale so aanloklik maak. Dit herinner ons aan ‘n eenvoudiger manier van leef – waar jy nog groente direk by ‘n plaashek koop, waar jou buurman nog vir jou ‘n bakkie perskes bring as sy boom te vol raak, en waar almal steeds weet wie bak die lekkerste beskuit. Waar die groot kuier op die jaarlikse Kerkbasaar gebeur. Maar klein dorpies het ook ‘n donker kant – ou skandes wat nog in die hoekies skuil, ‘n liefde wat nooit geroes het nie, en natuurlik ‘n nuwe gesig in die dorp wat heeltyd die hele plek aan die gons het.
In my Groenbosbaai-reeks verken ek al hierdie temas – van tweede kanse in die liefde tot hoe ‘n gemeenskap mekaar dra in moeilike tye. Dit is ‘n plek wat ek kon skep sonder beurtkrag of watertekorte (dankie tog!), maar waar drama en romanse steeds hoogty vier.
Wat dink jy maak klein dorpie-stories so onweerstaanbaar? Droom jy ook daarvan om iewers ‘n kafee oop te maak, of is jy eerder die tipe wat, soos ek, ‘n hele trop bokke voor name sou gee? Deel jou gedagtes in die kommentaar!
Comments