
Toe ons kinders was, het ons met groot oë geluister na stories van prinsesse, towenaars en wonderwerke. Ons het saam met Aspoestertjie gewag vir haar glaskoets, met Doringrosie ‘n lang middagslapie gevat (sonder ‘n wekker), en met Belle geglo dat ware liefde ‘n monster in ‘n prins kan verander. Maar in ‘n wêreld waar ons fone ons wakker hou en "breaking news" nooit ophou nie, is daar nog plek vir sprokies?
Ek glo so – en dis presies hoekom ek my Sprokiesliefde-reeks skryf.
Ons wêreld mag dalk vinniger en meer realisties wees as toe ons kinders was, maar dit beteken nie dat ons nie steeds wonderwerke wil hê nie. Moderne sprokies gaan nie meer net oor ‘n prins op ‘n wit perd of ‘n heldin wat gered moet word nie. Dit gaan oor drome, tweede kanse en ‘n bietjie betowering in ‘n wêreld wat soms té hard en sinies voel.
Sprokies het gegroei – net soos ons
Dink net hoe dinge verander het:
👠 Aspoestertjie wag nie meer vir ‘n prins om haar uit haar omstandighede te red nie – sy bou haar eie toekoms… dalk in ‘n motorhuis waar sy motors herstel, met ‘n beter skoenkeuse as ‘n glaspantoffel.
📚 Belle sien nie net ‘n vloek wat ‘n prins in ‘n monster verander het nie – sy sien ‘n joernalis met ‘n donker verlede. Maar sy bring haar eie wysheid en empatie na die tafel.
😴 Doringrosie se "tower slaap"? O wag, hier is soveel moontlikhede!
Maar al verander die omstandighede, bly die kern van sprokies dieselfde: hoop, liefde en ‘n bietjie wonderwerk.
Wanneer sprokies oor meer as net prinsesse gaan...
Net Soos ‘n Droom is ‘n bietjie anders. Dis nie ‘n klassieke "rags to riches" sprokie nie, maar eerder ‘n storie oor iemand wat hul ware familie soek. Want soms is die grootste sprokie nie ‘n kasteel of ‘n kroon nie – maar om te behoort, aanvaar te word en jou eie pad na geluk te vind.
Ek glo dat ons steeds sprokies nodig het, dalk juis in ‘n wêreld wat so vinnig verander. Ons wil steeds glo dat die lewe onverwags mooi kan wees, dat mense kán verander, en dat geluk vir almal moontlik is – al kom dit nie in ‘n blink koets nie.
Hou jy van sprokies met ‘n moderne kinkel? Watter klassieke sprokie sou jy graag in ‘n nuwe lig wil sien? Kom gesels saam in die kommentaar!
Comentarios