Rugby, Romantiek en ‘n Glas Wyn vir die Senuwees 🍷🏉❤️
- Francine Beaton
- Mar 21
- 2 min read

Vir party mense is rugby net ‘n sport. ‘n Klompie ouens wat op ‘n Saterdagmiddag agter ‘n bal aanhardloop terwyl die res van ons met ‘n stukkie biltong in die hand (en dalk ‘n glas wyn vir die senuwees) sit en kyk. Maar as jy in ‘n rugby-mal familie grootword, weet jy dit is veel meer as net ‘n wedstryd. Dit is passie. Dit is lojaliteit. Dit is ‘n kultuur. En soms is dit ‘n toets vir jou bloeddruk.
My ma het altyd gesê: "If you can't beat them, join them." En glo my, daar was geen manier om dit te beat nie. My pa was so fanaties oor rugby dat hy selfs die Springbokke se proefwedstryde gaan kyk het. Dan was daar my drie broers. En my twee neefs wat by ons gebly het. Almal rugbyspelers. En natuurlik al my vriende. En al my crushes. Jy het nie ‘n keuse gehad nie – jy moes saam kyk.
As my broers by die klub geoefen het, moes ek en my sussie saam piekel, want dit was veiliger om om die rugbyvelde te draf as in die strate. Moeg gedrag? Dan het ons ‘n bal vir mekaar geskop, en ek sweer, as vrouens daardie tyd professioneel kon speel, was ek daar. Trouens, ek het een keer gespeel. Ek het selfs ‘n drie gedruk. En toe besef ek vinnig: hierdie spel is BAIE harder as wat dit lyk. Dankie, maar nee dankie – ek verkies my rol as side-line commentator, met ‘n glas wyn in die hand.
Of eerder, ek het verkies. Tot ek een aand besef het dat wyn en ‘n oor-enthousiaste rugbyondersteuner ‘n gevaarlike kombinasie is. Want as my span oppad is om ‘n drie te druk, speel ek saam. Miskien moet ek belê in plastiekglase…
Nou, in my Pad na Glorie, Verspeelde Kanse en Op die Kantlyn-reekse is die Buffels Rugby Unie die hartklop van hierdie wêreld. Rugby is nie net ‘n sport nie – dit is die agtergrond vir stories oor mense wat nie net op die veld hul spore verdien nie, maar ook in die liefde en die lewe. Want ons weet – dit vat meer as net ‘n harde duikslag of ‘n skepskop om ‘n wenner te wees. In my stories gaan dit oor tweede kanse, oor hoe die lewe jou soms ‘n hou gee wat jy nie verwag het nie, en oor hoe jy weer opstaan – op die veld én in jou persoonlike lewe.
Rugby is ‘n emosionele spel – en so ook liefde. Die Buffels is nie net ‘n span nie; dit is ‘n familie. Hier is daar kameraadskap, lojaliteit en natuurlik ‘n bietjie gesonde mededinging. Maar dit is ook die plek waar verlore liefdes weer ontmoet, waar mislukkings die pad baan vir ‘n sterker toekoms, en waar ‘n ou liefde altyd weer kan opvlam.
Rugby en romanse mag dalk ‘n ongewone kombinasie wees, maar glo my – dit werk. Want beide vra deursettingsvermoë, harde werk en ‘n klomp passie.
Het jy ‘n gunsteling rugby-liefdesverhaal? Of het jy al verlief geraak op ‘n sportman? Kom gesels saam in die kommentaar – ek wil weet! 🏉💖🍷
Comentarios